’n bietjie geskiedenis

Die Bekker kinders Louise, voor, met haar broers en suster . Onder Louise met Haas Das en Piet Muis.

Biografie

Wanneer Louise Smit (née Bekker) aan haar kinderjare in die Paarl dink, is dit ’n oneindige oefening van toonlere op die klavier. Haar pa, ’n kranige klavierspeler, wou van al sy kinders pianiste maak. Louise het gevoel sy wou eerder op die klavier dans. Agt oktawe het haar beperk. Saans was dit storietyd. Haar ma, ’n onderwyseres en bobaasverteller, het die ses kinders aan haar lippe laat hang.

Na gelukkige skooljare aan die Hoër Meisieskool La Rochelle, studeer sy Dramakuns aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna gaan sy na Malawi, Sentraal Afrika, waar sy hoofsaaklik kinderwerk doen. Sy voer die inheemse volksverhale op en dit lei tot weeklikse radioprogramme in die Chicewa taal. Terug in Suid - Afrika aanvaar sy ’n pos by die Johannesburgse Stadskouburg se marionette teater.

Hierna word sy aangestel as regisseur, kinderprogramme van die South African Broadcasting Corporation - TV. Haar eerste programme, Wielie Walie en Haas Das se Nuuskas, was treffers. Sy skep en maak ook programme in isiXhosa, isiZulu, Sotho, Pedi, SetTswana en Engels.

In 1980 bou sy haar eie Televisie ateljee en 20 jaar later verkoop sy dit aan Red Pepper Produksies.

Sy kook graag met Mozartmusiek hard in die agtergrond en lees baie. Jaarliks lees sy o.a. al Roald Dahl se boeke deur Quentin Blake geillustreer. Dit laat haar lag. En dit is wat sy met haar stories doen: sy laat kinders lag.

Sy is getroud, woon in Kaapstad en het ’n dogter, Corneli Smit.