Biografie
|
|
|
Wanneer Louise Smit (née Bekker) aan haar kinderjare in die
Paarl dink, is dit ’n oneindige oefening van toonlere op die klavier. Haar pa, ’n kranige klavierspeler, wou
van al sy kinders pianiste maak. Louise het gevoel sy wou eerder op die klavier dans. Agt oktawe het haar
beperk. Saans was dit storietyd. Haar ma, ’n onderwyseres en bobaasverteller, het die ses kinders aan haar
lippe laat hang.
Na gelukkige skooljare aan die Hoër Meisieskool La
Rochelle, studeer sy Dramakuns aan die Universiteit van Stellenbosch. Daarna gaan sy na Malawi, Sentraal -
Afrika, waar sy hoofsaaklik kinderwerk doen. Sy voer die inheemse volksverhale op en dit lei tot weeklikse
radioprogramme in die Chicewa - taal. Terug in Suid - Afrika aanvaar sy ’n pos by die Johannesburgse
Stadskouburg se marionette - teater.
Hierna word sy aangestel as regisseur, kinderprogramme van
die SAUK - TV. Haar eerste programme, Wielie Walie en Haas Das se Nuuskas, was treffers. Sy skep en maak ook
programme in isiXhosa, isiZulu, Sotho, Pedi, SetTswana en Engels.
In 1980 begin sy haar eie TV-ateljee, Kinnor Studios waar
haar programme onder Louise Smit Produksies vervaardig is. 20 jaar later verkoop sy dit aan Red Pepper
Produksies met haar aftrede van televisie.
Sy kook graag met Mozart se musiek hard in die agtergrond
en lees baie. Sy is getroud, woon tans in Duitsland en het ’n dogter. Sy skryf nou voltyds.
|